Louise H. Moodie
920406076
Werkstuk 3: Resensie
Eksentrieke prozaïs Breyten Breytenbach het vrye teuels gehad en het duidelik sy “Trump”-kaart gespeel met dié verhaal. Vir enige iemand se verbeelding is ’n vis-vretende-kind-kapende-maan-verslindende-pampoen verregaande, maar vir Breytenbach is dié tipe irrasionaliteit en absurditeit ’n beroemde kenmerk.
Die storie is sistematies uiteengesit en is maklik leesbaar. Die onverklaarbare gebeure vind drasties en vinnig opeenvolgend plaas en bied die leser nie die geleentheid om dadelik sin te maak van die debakel nie.
Breytenbach se sestiger-styl (wat kenmerkend ekspressionisties, surrealisties en eksistensialisties is) loop verskeie relevante temas trompop. Hoekom nou juis ’n pampoen weet nugter alleen, maar Breytenbach vertel die verhaal van ’n man wat ’n “grommende” pampoen huis toe neem om aan te smul vir sy verjaardag die sestiende September. Die pampoen bevind homself in ’n yskas saam met aandete (die vis) op die vyfde vloer van ’n woonstelblok, by ’n duidelik eentonige familie. Die pampoen vreet die vis, ontvoer tragies ook die swartoogdogtertjie en eet sowaar die maan. Nie een van die karakters kan sin maak of die situasie begryp nie.
Sulke onsekerheid is ooreenstemmend met die karakter in Breytenbach se ander kortverhaal “Selfmoord 2” wat handel oor ’n “people pleasing” busbestuurder wat sy eienaardige seksuele fantasieë behoorlik ten volle benut en dit toeskryf aan werk. Breytenbach se verhaal herinner my aan die absurditeit van ons bestaan, menswees en grotendeels die absolute kreatiewe kapasiteit wat ons verbeelding besit.
Die rit waarop dié kortverhaal jou neem, kan vergelyk word met dié van Jimi Hendrix se “acid”-veldtogte. Die manier waarop hy die storie aanpak, is vermaaklik, bonatuurlik en banaal. ’n Wenresep vir ’n laguitbarsting en skewe gesigsuitdrukkings. Breytenbach is ’n natuurlike, moeitevrye literatuurkunstenaar wat met die “swoosh” van sy pen elke leser prikkel en betower op een of ander vlak.